Taste the Helderberg 2015

Fynproewersaand vier die smaaklike hart van die Helderberg
11 Junie 2015

Die NH Lord Charles Hotel in Somerset-Wes gaan omskep word in ‘n eenstop wynroete van weergalose fynproewersgenot, wanneer Taste the Helderberg 2015 ‘n eksklusiewe aand van gehalte wyne en kos wat eie is aan dié geweste, opdis op 11 Junie 2015.

Taste the Helderberg vier vanjaar sy sewende bestaansjaar en is een van die mees gewilde sosiale gebeurtenisse om neerslagtige wintersweer die hoof te bied met ‘n skatkis van eiesoortige Helderbergse smaaksensasies, en dit alles onder een dak.

Locavores en liefhebbers van die fynere dinge in die lewe kan vanjaar uitsien na ‘n watertand wintersdoepa van unieke glansdisse, ‘n goeie dosis vermaak, en voortreflike wyne vanuit hierdie roemryke Wynlandstreek.

“Goeie kos en wyn sorg altyd vir ‘n wenresep. Roer dan uitsonderlike gehalte en hartlike gasvryheid daarby, en jy het ‘n smulfees uit die boonste rakke. Nie eers die reen of koue weer kan ‘n demper op ons Taste the Helderberg plaas nie, want dit wat ons bied laat die hart en sommer al die sintuie behoorlik warm klop. Dit is beslis een van die jaarlikse hoogtepunte op ons winterkalender,” gesels Annareth Bolton, Uitvoerende Hoofbeampte van die Stellenbosch American Express® Wynroetes.

Die Helderberg is ‘n vooruitstrewende sub-roete van die Stellenbosch Wynroetes wat
strek vanaf Somerset-Wes tot by Stellenbosch en Sir Lowry’s Pass Village; en ook die tuiste is van van ons land se voorste kelders en eetplekke.

Taste the Helderberg is jou kaartjie na die jongste plesiere en passies van die kontrei en gaste sal hulle ware ‘Helderberg heil’ kan vind met meer as 100 wyne van ten minste 25 kelders en disse en liplekker produkte van erkende sjefs en produsente wat ekstra smaak aan hierdie proe-ervaring sal verleen.

Die plaaslike wyngemeenskap het ‘n bobaas aanbieding wat wissel van tradisionele kelders tot ultra-moderne nuwelinge, gewilde familieplase tot eko-vriendelike baanbrekers. Hulle sluit in bekendes en bekroondes soos Avontuur, Hidden Valley, Ken Forrester Wingerde, Longridge, Lyngrove, Peter Falke, Vergenoegd en Waterkloof en Yonder Hill Wynlandgoed.

Kaartjies vir Taste the Helderberg 2015 kos R80 per persoon en is beperk om ‘n oorvol kuierarea te verhoed. Die kaartjie sluit ‘n elegante proeglas en gratis wynproeë in. Saam met die wyne sal verskeie disse en versnaperinge ook gedurende die aand te koop wees.

Die deure is oop vanaf 17h00 tot 21h00 en belangstellendes word aangeraai om sommer vroeg al te kom, om die meeste van dié eiesoortige proe-ervaring te maak.

Vir meer inligting oor Taste the Helderberg 2015 besoek www.wineroute.co.za of skakel 021 886 4310. Kaartjies sal ook by die deur beskikbaar wees.



Uitgereik deur: Uitgereik namens:
Random Hat Communications Stellenbosch American Express® Wynroetes
Skakelpersoon: Leanne Sutherland Skakelpersone: Elmarie Rabe
Tel: 021 849 8830/083 564 0876 Tel: 021 886 8275
Epos: leanne@randomhat.co.za Epos: events@wineroute.co.za